Waarop baseer ons ons vreugde?

Kyk rondom jou, na alles in jou bestaan. Wat bring jou geluk?  Wat help jou opstaan in die oggend, en wat dryf jou deur die dag?  Stel jouself voor – al die mense wat jy ken, jou werk, jou geld, jou kar, jou foon… Wat as al hierdie dinge spoorloos verdwyn.  Bly daar enige geluk in jou hart oor om aan te gaan met jou lewe?

Dis ‘n warm dag in die Kaap.  Ek sit agter in die Isuzu canopy saam met die man van my lewe in die bloedende hitte van die Kaap in Januarie.  My pa trek af om ‘n jong kleurling meisie op te laai wat hitchhike. Sys sestien, maar haar klein, maar lyfie wil my vertel dat sy dalk dertien is.  Haar oe is wild en haar glimlag stadig.  Die afwesigheid van haar voortande baan die weg na haar sagte stem wat nie gereeld bo die geraas agter in die trokkie gehoor kan word nie. ‘n Gesprek ontwikkel stadig, en vergaan binne sekondes. Sys ongelukkig. Bitter ongelukkig, en sy dra dit op haar mou.  Daar is ‘n tatoeeermerk op haar enkel.  Haar naam is op haar lyf geplaas, soos ‘n merk van ‘n besetlike vader of kerel wat elke deel van haar wil he.  Sy hou hierdie vlek van eiendom toe met haar vuil bruin hande.  Ek weet slegs vier dinge van haar toe sy na veertig minute saam met ons afgelaai word in ‘n stofstraat.  Hierdie jaar gaan sy na graad nege.  Sy woon by haar ma en het twee ouer broers.  Sy het vir haar tannie gaan kuier, en sy hou van Westlife se musiek.

Ek kon nie help om te huil toe ons daar weg ry nie.  Die seer in haar gebare, die rouheid in haar kyk en die manier hoe sy my nie in die oe kan staar nie, is die bewyse van soveel opgekropte pyn wat sy in haar rond sleep.  Ek sit toe en wonder of  dit dalk anders sou gewees het as sy iewers anders gewoon het, ander ouers gehad het, of dalk meer besittings gehad het.  Sou sy dan dalk gelukkig gewees het?  En skielik val dit my by…  Wat as ek die verlore dogter was?  Wat as ek gewoon het in ‘n plakkers-hut, sonder ventilasie, kos, vryheid van wees, ‘n bed en gemak?  Sou ek gelukkig gewees het?  En dan vlieg my gedagtes weer na verhale in die Bybel van mense wat so swaar gekry het.  Swaarder as die bruin kind sonder tande.  Mense wat steeds hulle geluk in Hom alleen geplaas het, en gejubel en gejuig het oor Sy grootheid en mag.

Dis ons laaste dag in Kaapstad gewees, soos ons hand aan hand deur die V&A Waterfont geloop het.  Dis Louis Vuitton, Guess, Ralph Lauren, Jimmy Choo en my gesig wat na die belaglikheid van dit alles gluur.  Jy met jou twintig rand pakkies en ek met my tekkies waarop ek self prentjies geskets het.  En daar word op ons neergekyk soos tannies hulle uitrustings, wat meer as my maand se selaris kos, aanpas.  Twee van hulle staan en lag om kledingstukke wat ek nooit in my leeftyd sal besit nie.  Hulle lyk so gelukkig met die goud wat hulle soos ‘n kersboom van kop tot toon versier.  En ek dink weer aan die meisiekind, en wonder hoe dit sou gewees het as hulle kon plekke ruil.

Vir ewig en altyd wil ek probeer en streef om my geluk in Hom alleen te vind.  Dae soos vandag voel ek ongelukkig oor omstandighede waaraan ek as mens niks kan verander nie. Ek haat die feit dat ek so ongelukkig voel.  Ek wil bo situasies kan uitklim en weet hierdie tydelike lewe gaan wel verby, en Hy is besig om ‘n lewe wat slegs vreugde verskaf vir my voor te berei.  Ek wil die beste maak van elke dag, en Sy hande en voete wees.  Hierdie wereld het mense nodig wat bereid is om die goeie nuus oor te dra, aan ander wat in omstandighede lewe wat hul van hul vreugde wil beroof.

Jou omstadighede en besittings moet nie jou geluk bepaal…

Waarin le JOU vreugde?